CNH is bekend daarvoor dat hulle die boer se behoeftes ken en verstaan – en die sukses van die boer in al sy bedrywighede ten doel het. 2023 was ՚n uitdagende jaar vir die landboubedryf, maar CNH het uitgestyg deur hulleself as markleiers met betrekking tot trekker- en stroperverkope te vestig. Met 36,5% van die 2023- markaandeel vir trekkers en 49% vir stropers, volgens die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (SAAMA), vertel Jacques Taylor, die uitvoerende hoof van CNH dat hulle wil voortbou op hierdie sukses. Volgens verskepingsyfers kan CNH ook spog met 45% markaandeel in die res van Afrika en die Midde-Ooste. Twee reuse onder een dak CNH het twee handelsmerke onder een dak en hulle het die wenresep gevind om te verseker dat daar harmonie en gesonde mededinging tussen CASE IH en New Holland is.
“Ons is in ՚n baie unieke situasie om die twee handelsmerke te hê. Ons is dieselfde maatskappy, maar in die veld ding ons teen mekaar mee, net soos teen enige ander handelsmerke. Ons het ՚n baie interessante dinamika in die onderneming, maar tog steeds een doel as CNH. Ons werk hard daaraan dat elke handelsmerk sy eie kultuur het, maar uiteindelik is ons steeds een maatskappy,” vertel Jacques.Elke handelsmerk het sy voordeel Hoewel CASE IH en New Holland se aanbiedings baie ooreenkom, verduidelik Jacques dat dat hulle wel poog om die twee handelsmerke in die mark te differensieer. “Albei het steeds ՚n volledige produkreeks, maar New Holland het spesialistrekkers en CASE IH het ՚n groter fokus op tegnologie,” verduidelik Jacques. Jy besluit self Een van die vele voordele van hulle toerusting is dat jy pasgemaakte oplossings na jou lande kan bring. Wanneer jy ՚n masjien by hulle koop kies jy die spesifikasies en tegnologie wat by jou boerdery pas. Die boer is prioriteit by CNH CNH wil hê hulle klante moet tuis voel by hulle, daarom het hulle vyf strategiese prioriteite:
- Ontwikkelings wat deur die boer geïnspireer word: Hulle mik om nader aan die boer te beweeg en hulle behoeftes te verstaan. Die terugvoering wat hulle ontvang van boere word gebruik vir verdere produkontwikkeling.
- Tegnologiese leierskap: Die klem hier is op die term leierskap en CNH streef daarna om aan die voorpunt van tegnologie te bly. ՚n Voorbeeld hiervan is toe hulle in 2023 Raven Industries, ՚n presisietegnologiemaatskappy, oorgekoop het.
- ՚n Sterk handelsmerk en handelaarsnetwerk: CNH streef daarna om hulle handelsmerk op almal se lippe te hê en ook hulle handelaarsnetwerk tot op ՚n sekere standaard te kry en daar te hou.
- Operasionele uitmuntendheid: Intern moet hulle onderneming doeltreffend bestuur word deur middel van die regte prosesse.
- Volhoubaarheid: ՚n Groot deel van CNH gaan oor volhoubaarheid. Om volhoubaar te kan boer, maar ook om volhoubaar te wees in terme van hulle produkontwikkeling. Die gebruik van henubare energiebronne is vir hulle belangrik en hulle het reeds elektriese- en metaantrekkers na die Suid-Afrikaanse mark gebring.